Monday, October 18, 2010

Ragab

Ons het almal al gehoor van hierdie vrou. Sy’t in die muur van Jerigo gewoon, en het ‘n beroep gehad wat menige se wenkbroue laat lig het. Ja, dit is Ragab van wie ons praat en haar naam het beteken, breed of groot. Hierdie was ‘n vrou wat maklik na haarself kon kyk en besluit dat sy nie veel vir enigiemand werd kon wees nie.

Ragab het geloof gehad in die God, wat eintlik vir haar nog onbekend was. Daardie geloof het gemaak dat sy en haar familie se lewens gered is. Die Israeliete het haar aanvaar in hulle midde en Ragab is getroud met Salmon, uit die stam van Juda en hul seun was Boas wat later jare met Rut getrou het.

Dis interresssant om daarop te let dat die tyd toe die verspieders in Jerigo gekom het was die tyd van die vlas oes. Dit was juis die vlas stoppels wat op Ragab se dak gelê het om uit te droog, waaronder die verspieders kon wegkruip. Hierdie vlas kon verweef word in materiale. Daar is bewerings dat sy te doen gehad het met die kleur van materiale in purpur, en dat dit die bron van die purpur of rooi tou is waarmee sy die verspieders na veiligheid gehelp het. Dit en die feit dat haar huis in die muur van die stad gebou is, en ook gebruik is as ‘n herberg vir reisigers, het gemaak dat sy gehoor het van die Israeliete en hulle tog vanuit Egipte en dit wat Jehovah vir hulle gedoen het en steeds doen. Sy het gehoor van die wonderwerke wat hierdie volk gevolg het, en ook van die oorwinnings wat hul telekmale in oorloë bereik het.

Ek leer hier van Ragab, dit maak nie saak wie jy is, wat se werk jy doen, waar jy bly, wie jou vriende is nie, daar is net een ding wat jou kan red. Sy het die regte besluit geneem, hoewel dit nie reg is om leuns te vertel nie, het hierdie goeie daad wat sy vir die verspieders gedoen het, en wat haar gehoorsaamheid aan God bewys het, haar lewe gered.

Wat nog uitstaan is dat werke sonder geloof niks beteken nie. As Ragab nie geglo het in God nie, sou dit niks vir haar as mens gehelp het om te jok om die verspieders te red nie. Die ander kant van die saak is ook waar, dat al het sy geglo dat die God van die Israeliete magtig is en groot dinge kan doen, en sy het niks gedoen om die verspieders te help nie, sou daar steeds geen positiewe uitkoms vir haar gewees het nie.

Ragab was ‘n vrou wat ander nie wou ken nie, die tipe vrou wat geen hoop gehad het, en eintlik deur niemand ‘n kans gegee sou word nie. Die Here het haar raakgesien en gesien wie sy eintlik is en kan wees, Hy het haar gelei om te word wat Hy wou hê sy moes wees. In Heb 11:31 en Jak 2:25 word Ragab beskryf as ‘n geloofsheld. Ragab is ook opgeneem in die geslagsregister van ons Verlosser en Saligmaker.

Moenie jouself te gering ag nie. Moenie in jouself betwyfel nie. Glo in God en dra die vrugte van jou bekering. Bewys Sy liefde in jou, deur jou naaste lief te hê en te help. Behou jou geloof, maar wys ook jou goeie dade daarmee saam.

No comments:

Post a Comment